Tuis / Dienste / Plaasbesoeke

Plaasbesoeke

Verskeie besoeke word gedurende die produksiesiklus aan die plaas gebring. Hierdie besoeke is daarop gemik om produksie te optimaliseer, met inagneming van die finansiële en omgewingsimpak op plaasvlak.

Verteenwoordigende grondmonsters

Kynoch se diens sluit in die neem van grondmonsters volgens spesifieke riglyne, die vervoer van die monsters na die laboratorium en die ontleding daarvan volgens die verlangde prosedures. Hierdie resultate vorm die grondslag van ons kunsmisvoorstelle. Al ons grondontledings word deur geakkrediteerde laboratoriums verwerk en ontleed om akkuraatheid en aanvaarbare omkeertye te verseker.

Kunsmisvoorstelle

’n Teikenopbrengs, grondvrugbaarheidsvlak (grondmonsterresultate) en wetenskaplik gefundeerde kunsmisriglyne word gebruik om wetenskaplik verantwoordbare kunsmisvoorstelle op te stel. Hierdie voorstelle word deur gekwalifiseerde persone ontwikkel wat ook die produsent se bestuurs- en bewerkingspraktyke in ag neem om dit prakties vir gebruik op die plaas te maak. Spesiale aandag word ook daaraan gegee om die omgewing te beskerm en te verseker dat die voorstelle finansieel bekostigbaar is.

Gewasinspeksies en seisoenale evaluasies

Ons interne span ervare landboukundiges verstaan die wetenskap van gewasproduksie. Dit is uiters belangrik om gereeld gedurende die seisoen gewasinspeksies te doen. Moontlike voedingstoftekorte kan geïdentifiseer en betyds reggestel word om opbrengs- en/of gehalteverliese te voorkom. Sulke verliese sal ’n invloed op die produsent se winsgewendheid hê.

Ander ontledings

Ons kan ook blaarontledings aanbied om vas te stel of daar voedingstoftekorte is. Dit kan gebeur dat die gewas reeds voedingstoftekorte ervaar, maar dat die simptome nog nie sigbaar is nie (verborge honger). Hierdie verborge honger kan die boer duur te staan kom wat winsgewendheid betref. Die tydige neem van ’n blaarmonster kan hierdie verliese voorkom.

Waterontleding vir besproeiingsdoeleindes is ook belangrik, aangesien watergehalte ’n direkte invloed op gewasopbrengs en -gehalte kan hê. Kynoch kan hierdie monsters ook neem, ontleed en interpreteer en ’n aanbeveling maak oor die geskiktheid van die water vir gewasproduksie onder besproeiing.